Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 28 JULIE 2019

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur Johan, ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste. ‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus, vandag:

DIE SARL HF FOON-, DIGITALE- EN GELYKGOLF KOMPETISIES IN AUGUSTUS

VEERTIEN VUURTORINGS GEREGISTREER VIR ILLW
en

SSTV-AKTIWITEIT VAN UIT DIE RUIMTESTASIE

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

DIE SARL HF FOON-, DIGITALE- EN GELYKGOLF KOMPETISIES IN AUGUSTUS

Die doel van die SARL HF kompetisies (die Premierliga-kompetisie van die Liga) is dat deelnemers met soveel as moontlik amateurs in Suider-Afrika op die 20, 40 en 80 m amateur bande kontak maak. Jy kan deelneem as 'n enkel operateur enkel band; 'n enkel operateur alle bande; 'n multi-operateur enkel band of 'n multi-operateur alle bande stasie. Die uitruiling is 'n realistiese RS-, RSQ- of RST-verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer vanaf 001

Die HF Foon kompetisie duur van 14:00 tot 17:00 UTC op Sondag 4 Augustus 2019 en die Stil Sleutels Gedenk Trofee ESB, die Joseph White-trofee en die AKYAB-trofee word toegeken vir die Foon kompetisie.

Die HF Digitale kompetisie met slegs RTD- en PSK-aktiwiteit vind plaas op Sondag 18 Augustus 2019 van 14:00 tot 17:00 UTC en die SARL Digitale Trofee en die ZS4BS Digitale Trofee word vir die Digitale kompetisie toegeken.

Die HF Gelykgolf kompetisie is op Sondag 25 Augustus 2019 van 14:00 tot 17:00 UTC op die lug en die Stil Sleutels Gedenk Trofee Gelykgolf en die Anon-trofee kan gewen word.

Met die uitslae van al drie die kompetisies, bepaal die kompetisie komitee die wenners van die HOS-trog, die Fred Mills-trofee, die SAWRC-trofee vir JD's, die SARL Jeug Trofee en die Klubdeelname-toekenning.

Dien jou logstate in as ADIF of Cabrillo (met 'n opsommingsblad) of gebruik die MS Excel-logstaat en gemerk “my roepsein HF Foon of HF Digitaal of HF Gelykgolf,” teen 12 Augustus, 26 Augustus en 2 September onderskeidelik. Stuur die logstate na zs4bfn@mweb.co.za. Die MS Excel-logstaat en die opsommingsblad is beskikbaar op die Kompetisie-bladsy van die Liga webwerf. Vind die volledige stel reëls op bladsy 38 van die 2019 SARL Blou Boek.

N1MM LOGGER + IN 'N ANDER TAAL

Al, AB2ZY is 'n nuwe lid van die N1MM Logger + ontwikkeling span wat hom toespits op die voorbereiding van die gewilde logboek program om ander tale te ondersteun, buiten Engels. Hy soek 'n stel gebruikers vrywilligers om saam met hom te werk om dit gereed te maak vir algemene verspreiding. Volgens Al sal hierdie span "bestaan uit mense wat bereid is om vertaalwerk te doen en diegene wat die vertaalde tale wil toets." 'n Eksperimentele weergawe van N1MM Logger + word met gereelde tussenposes uit die produksie kode basis gebou en beskikbaar gestel aan vrywilligers vir toetsing. As jy 'n e-pos aan Al stuur, vertel hom ook met watter taal jy wil help en of jy wil help met vertaling, toets of albei. Sy e-posadres is akozak@hourglass.com

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga

Tot op datum is veertien Suider-Afrikaanse Vuurtorings geregistreer op ILLW.net vir die 2019 Internasionale Vuurtoring en Ligskip-naweek wat op 17 en 18 Augustus plaasvind. Dit is die vuurtorings by Pelican Point, Walvisbaai, die 300ste vuurtoring om te registreer; Robbeneiland; Roman Rock, Kaap Agulhas; Kaap Columbine; Kaap Hangklip; Groenpunt, Kaapstad; Slangkop; Kaap Recife; Donkin Reserve; North Head en South Head in Saldanha; Cooper en Tugela Bluff.

Die 2019 Suid-Afrikaanse Vuurtoring-toekenning sal beskikbaar wees vir alle amateurs - aktiveerders en jagters - wat 'n logstaat voorlê met die QSOs wat jy tydens die ILLW met Suider-Afrikaanse Vuurtorings gemaak het. Die toekenning is 'n PDF-sertifikaat wat jy kan druk, in 'n raam sit en teen die muur in jou radiokamer kan hang! Stuur jou logstaat na zs4bfn@mweb.co.za.

ARISS - RS0ISS - SSTV AKTIWITEIT

Gaston Bertels, ON4WF berig dat ARISS Rusland SSTV-toetsuitsendings beplan. 'n Russiese MAI-SSTV-byeenkoms word beplan vanaf die Internasionale Ruimtestasie vir Maandag 29 Julie van 13:15 tot 21:25 UTC en vir Dinsdag 30 Julie van 13:50 tot 19:50 UTC. Die uitsendings sal na verwagting op 145,800 MHz FM wees in die SSTV-modus PD120. Hierdie sessie is die roetine-MAI-75-aktiwiteit wat slegs vir 'n paar wentelbane aktief is. Dit wil voorkom asof die grootste deel van die wêreld 'n kans sal kry gedurende die twee dae lange aktiwiteit.

KOMPETISIE UITSLAE

Die Bo-Karoo ARK vra om verskoning vir die fout in die uitslae van die SARL Newbie-kompetisie wat op 6 Julie 2019 gehou is. Die eerste plek in die kompetisie gaan aan Brad Mostert, ZS6WWW. Die klub het reeds met Brad kontak gemaak.

Die kompetisie komitee het 49 logstate ontvang vir die derde SARL Woensdag 80 m Klub Naelloop wat op Woensdag 17 Julie 2019 gehou is. Uit die 49 logstate is bepaal dat 547 QSOs tydens die Naelloop gemaak is.

1ste die Bo-Karoo ARK - 718 punte (15 logstate)
2de die Wesrand ARK - 559 punte (13 logstate)
3de die Boland ARK - 459 punte (15 logstate)
4de die Hibiskuskus ARK- 150 punte (3 logstate)
5de die Bloemfontein ARV - 99 punte (2 logstate)
6de die Kaapstad ARS - 44 punte (1 logstaat)

Na drie bene van die kompetisie is die Wesrand ARK voor met 1 395 punte, gevolg deur die Bo-Karoo ARK met 1 306 punte en die Boland ARK met 1 110 punte. Die vierde been van die SARL 80 m Klub Naelloop vind op Woensdag 18 September 2019 plaas!

VAKATURES IN DIE NUUS-SPAN

Die SARL-Nuusspan het nog 'n vakature vir 'n Bulletin-samesteller/redakteur, en twee vakatures vir proeflesers, een Engels en een Afrikaans. As jy wil aansluit by die Nuusspan, kontak Dennis by zs4bs@netactive.co.za of Anette, ZR6D by jhjacobsza@gmail.com

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Tans is daar geen sonvlekke sigbaar nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan bruikbare DX openinge op die 18 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Nou die Dagboek van Gebeure vir die volgende paar weke:

29 Julie - die sluitingsdatum vir logstate vir die RaDAR-uitdaging, die QRP en ZS2 naelloop
3 Aug - die Pretoria ARK snuffelmark
4 Aug - die SARL HF Foon Kompetisie
9 Aug - die SARL JD Naelloop
10 Aug - Die SARL Jeug Naelloop
17 en 18 Aug - die Internasionale Vuurtoring en Ligskip Naweek
18 Aug - die SARL HF Digitale Kompetisie
25 Aug - die SARL HF Gelykgolf Kompetisie

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Die doel van die SARL HF-kompetisies (die Premierliga-kompetisie van die Liga) is dat deelnemers soveel as moontlik amateurs in Suider-Afrika op die 20, 40 en 80 m amateur bande kontak. Die Foon kompetisie vind plaas op Sondag 4 Augustus, die Digitale kompetisie op Sondag 18 Augustus en die Gelykgolf kompetisie op Sondag 25 Augustus. Vind die volledige stel reëls op bladsy 38 van die 2019 Blou Boek vir SARL.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Heruitsending vind op Maandae aande om 19:30 Sentraal Afrika Tyd op 3 620 kHz plaas met vergunning van Andy, ZS6ADY. Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003